Total Grootbrak Open Binnekort

Na ’n baie lang wag, sal Total-en-Steers Groot Brak se kliënte eersdaags weer hulle gunsteling besigheid kan besoek. Die projek, wat die verpligte vervanging van die ondergrondse tenks behels het, het op 6 Julie ’n aanvang geneem en behoort binne die week van 9 tot 13 November afgehandel te wees.  Die presiese datum hang grootliks van weersomstandighede af aangesien reën die laaste afronding kan belemmer. Betonblaaie en teer moet gelê word waarvoor ’n stabiele en droë onder-basis nodig is.

Die beginstadium het ook met stampe en stote verloop, aangesien daar met die uithaal van die ou tenks waarskynlik produk in die grond beland het. By die gebied waar die besigheidsperseel geleë is, is die watertafel besonder vlak. Met die uitgrawe van die, bykans 5 meter diep gate vir die nuwe tenks, is dit dus ooglopend dat die water besoedel was en kon nie eenvoudig in die Groot Brakrivier teruggestort word nie. Dit is met ’n baie komplekse proses eers weer gesuiwer, en daarna terug in moeder aarde in gepomp.

Regulasies het verhoed dat té veel mense op die perseel kon wees om te werk en werke aan die binnekant van die gebou sou eers begin kon word nadat die huidige projek afgehandel is.  Dit was natuurlik onaanvaarbaar veral met die Desember seisoen op ons drumpel.  Daarom is dit met spyt dat ons moet sê dat die vernuwings aan die binnekant van die gebou nie voltooi kon word nie, maar is uitgestel tot volgende jaar.

Die Total-en-Steers Groot Brak span sal egter gereed wees om almal weer met ope arms te ontvang en belowe u ’n ervaring, wat baie meer sal wees as “business as usual”!!!

’n Spesiale word van dank moet gaan aan André Nel en sy span van Art Welding, die maatskappy wat die kontrak gekry het om die projek op die grond uit te voer. Op ’n besondere manier het hy en die Terrein-voorman Chris du Preez dit reggekry om telkens die regte besluite te neem, die regte sub-kontrakteurs aan te stel en al die manne aan te voer tot deeglike werk.

Alle kliënte word hartlik bedank vir die geduld wat hulle aan die dag moet lê te midde van al die ongerief wat hulle aangedoen word gedurende die tyd van konstruksie.  Die Total en Steers Groot Brak span kan nie wag om almal weer met hulle gebruiklike vriendelikheid en flinke diens, te ontvang nie.